31 Augustus 2017
Gekunstelde Mitsubishi Pajero Sport tref SA met massiewe waarde-aanbod
Die lang verwagte Mitsubishi Pajero Sport, wat danksy ’n magdom hipermoderne tegnologiese verbeterings hoog bokant sy gewigsklas boks, is hier.
- Gesofistikeerde motoragtige dinamiese verrigting soos legendariese Pajero
- Klasbeste outomatiese 8-gang-transmissie gekoppel aan sy uitmuntende MIVEC-turbodieselenjin van 430 Nm
- Uitmuntende Super Select 4-11 4WD-stelsel, nou beskikbaar met gevorderde elektroniese bystand, waaronder afdraandebeheer (HDC) en veldrybeheer vir skitterende klouvermoë
- Nuweling oorheers 4WD-segment wat waarde vir geld betref
Die wêreld se eerste passasiersvoertuig met voltydse vierwielaandrywing, die PX33, is in 1933 deur Mitsubishi bekend gestel. Vandag, meer as 80 jaar later, stel Mitsubishi sy splinternuwe Pajero Sport bekend – ’n luukse doelgeboude sportnutsvoertuig met soortgelyke rydinamika as baie kragtige, ruim en luukse sedans, maar teen ’n baie gunstiger prys as sy eweknieë: onder R600 000!
Hierdie stylvol ontwerpte nuwegenerasie-sportnuts van Mitsubishi bied aansienlik verbeterde bestuursdinamika, waaronder sy klasbeste outomatiese 8-gang-transmissie vir die 2WD- sowel as die 4WD-modelle – laasgenoemde met laestrek asook Mitsubishi se jongste weergawe van die Super Select 4-II 4WD-stelsel wat nou ook met elektroniese veldrybystand pronk.
Gesofistikeerde kragtige dryfstelsel
Die nuwe Pajero Sport word aangedryf deur Mitsubishi se nuwe hoëverrigting-MIVEC-turbodieselenjin wat met sy vier silinders altesaam 133kW teen 3 500r/min lewer. Sy skitterende wringkrag van 430Nm teen ’n beskeie 2 500r/min tesame met Mitsubishi se nuwe outomatiese 8-gang-transmissie wat die beste in sy klas is en intelligente wisselbeheer het, sorg vir moeitelose rydinamika.
Een van die mees gesogte eienskappe van die nuwe Pajero Sport is die jongste weergawe van Mitsubishi se unieke Super Select 4-II 4WD-stelsel, wat nou ook elektroniese veldrybystand bied.
Die veldry-ervaring wat deur die unieke Super Select 4-II 4WD-stelsel gebied word, word verder verbeter deur afdraandebeheer (HDC) wat bykomende veiligheid bied wanneer die voertuig oor gevaarlike terrein beweeg. Daarbenewens kan die bestuurder die veldrymodus kies wat klouvermoë op ongeteerde oppervlakke bevorder.
Die bykomende elektroniese bystand stel die bestuurder in staat om die gruis-, modder-, sneeu-, sand- of rots-stelling te kies om by die oppervlaktoestande te pas en wat die enjinverrigting, transmissie-instelling en remwerk vir beter klouvermoë te vervolmaak. Die agterste sluitewenaar wat by hierdie puik 4WD-stelsel gevoeg is, gee die nuwe Pajero Sport skitterende padhouvermoë onder enige omstandighede – op die pad en in die veld – wat hom feitlik onstuitbaar maak.
Die uiters soepel outomatiese 8-gang-transmissie het ook ’n Sport-modus met handratwisseling en wisselpedale aan die agterkant van die stuurwiel wat die bestuurder in staat stel om volle beheer vir sportrywerk of op kronkelpaaie, lang afdraandes en ongewone sleeptoestande uit te oefen.
Elegante stilering en hoëgehalte-ritgemak:
Die getroue Pajero-handelsmerk is geskiedkundig sinoniem met ’n sagte rit en gevoel, ’n stil kajuit met baie min geraas, vibrasie en grofheid (NVH), sowel as moderne stilering.
Die nuut-ontwerpte Pajero Sport is só gestileer dat hy gemaklik in sy omgewing inpas. Die voertuig sal dus in die smaak van stylbewuste individue val wat op soek is na ’n praktiese dog luukse voertuig wat in hul daaglikse behoeftes voorsien en ook aan hul avontuurstylbehoeftes voldoen.
Die nuwe Pajero Sport se kenmerkende stilering is energiek en opvallend, terwyl die nuweling dit onverskrokke stel dat hy enige terrein met gemak kan baasraak.
Die samevoeging van elegansie, ruimte, veiligheid en hipermoderne tegnologie het tot ratse stedelike ryverrigting, gemaklike ooppadry en asemrowende opwinding vir opwindende veldry-avonture gelei.
Ingeboude dakspore wys nie net dat hierdie motor ernstig is nie – ’n regstreekse gevolg daarvan is dat die verbeterde lugdinamika rigtingstabiliteit teen hoër snelhede sowel as verbeterde brandstofverbruik in die hand werk.
Die nuwe Pajero Sport se atletiese ontwerp met swart daklyswerk, swart modderskerms voor en agter, swart voorruitlyswerk, kleurkodes vir die voorste en agterste buffers sowel as ’n stylvolle lugskort agter onderskei die nuwe Mitsubishi-sportnuts van sy mededingers.
Ligdiode-kopligte met outomatiese gelykverstelling en dagligryligte (DRL’s), waaronder kopligwassers vir die 4WD-weergawe, is deel van die standaard-toerusting, terwyl ’n derde remlig met ligdiodes in die stertdeur vir bykomende veiligheid sorg.
“Mitsubishi se ingenieurs het die beste van alle wêrelde met die splinternuwe Pajero Sport onder die nuwe ontwerpkonsep, wat ‘Dynamic Cruising Off-Roader’ genoem word, gekombineer – ’n gevestigde vierwielaangedrewe sportnuts wat ‘n mens met selfvertroue aan die wêreld kan wys,” sê Nic Campbell, hoofbestuurder by Mitsubishi Motors Suid-Afrika.
Die nuweling pronk in ooreenstemming met sy Pajero-erfenis met dubbelmik-kronkelvere met ’n rolstaaf aan die voorkant en veelskakelvering met ’n rolstaaf aan die agterkant. Die stil rit, wat toegeskryf kan word aan sy sterk leerraam-onderstel wat alle geraas, vibrasies en grofheid (NVH) opslurp, gee die nuwe Pajero Sport ’n groot sedan-motoragtige rit en hantering.
Nog ’n massiewe voordeel van die nuwe Pajero Sport is sy toonaangewende draaisirkel van net 11,2m – die beste in sy klas (in vergelyking met tussen 11,6m en 12,2m vir ander vooraanstaande sportnutse).
Die ratse nuwe Pajero Sport draai op ’n tiekie met die soort maneuvreerbaarheid wat parkering vergemaklik, die voertuig vinnig deur ’n gaping op die snelweg laat glip en hindernisse op die pad moeiteloos vermy.
Luukse binneruim:
Wat die kajuiteienskappe betref, staan die jongste Mitsubishi Pajero trots in die teenwoordigheid van sy direkte mededingers en selfs baie duurder luukse sedans.
Die hoëgehalte-gevoel van die luukse binneruim bied die beste ruimte en gerief in sy klas met oorgenoeg kop- en beenruimte sowel as bergplek en ruimte vir bagasie of sporttoerusting vir avontuurlustiges.
Sagte leersitplekke bevorder die gehaltegevoel van die nuwe pajero Sport. Die bestuurdersitplek het elektriese werking, terwyl die tweede ry sitplekke 60:40-verdeling het met tuimel- en agteroorverstelling sowel as glywerking en ’n armleuning met bekerhouers in die middel.
’n Derde ry sitplekke vou plat in die vloer weg om so min as moontlik bagasieruimte op te neem wanneer dit nie gebruik word nie.
Die gemak van die insittendes word verder verbeter deur ’n kantel- en teleskopies verstelbare stuurkolom met wisselpedale, parkeerhulp agter met ’n trurat-kamera, dubbele outomatiese lugversorging met afsonderlike kontroles vir die agterste insittendes, en ’n elektriese parkeerrem.
Ander standaard-eienskappe, om maar net ’n paar te noem, sluit in sleutellose werking met ’n elektroniese aansitter, veelfunksie-leerstuurwiel met klank- en spoedbeheer, Bluetooth met handvrye stembeheer en wegvoubare elektries beheerde deurspieëls met ingeboude rigtingwysers.
Vyfster-veiligheid:
Niks is vir Mitsubishi belangriker as veiligheid nie. Noodsaaklike passasiersbeskermingseienskappe gekoppel aan Mitsubishi se versterkte romp-stelsel (Reinforced Impact Safety Evolution (RISE)) het die Pajero Sport die hoogste gradering in die Australiese ANCAP-botsveiligheidstoets besorg – ’n hele vyf sterre, wat dit een van die veiligste voertuie op die pad en in die veld maak.
Ingeboude veiligheidskenmerke wat deel van die standaard-toerusting is, sluit in aktiewe klou- en stabiliteitsbeheer (ASTC), sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD), remhulpstelsel (BAS) en noodremhulp, terwyl ses lugsakke (bestuurder, passasier, sitplek- en kantlugsakgordyne) die veiligheidspakket wat die nuwe Pajero Sport nou bied, afrond.
Afdraandebeheer (HDC) en die nuwe elektroniese veldrybeheer voeg bykomende veiligheidsvoordele by die Pajero Sport se reeds indrukwekkende veldryverrigting.
Ligsensitiewe kopligte, reënsensor-ruitveërs, chromatiese truspieël, hoëgemonteerde derde ligdiode-remlig en ’n trukamera lewer alles ’n stewige bydrae tot die indrukwekkende lys veiligheidseienskappe van die nuwe Pajero Sport.
“Nog iets wat groot waarde tot die nuwe Pajero Sport voeg, is die feit dat baie van die bykomstighede deel van die voertuig se standaard-toerusting is in teenstelling met baie van sy mededingers waar dit bykomende koste lok. Dit maak ons nuwe sportnuts net nog aantrekliker,” sê Campbell.
’n Pakket vir die kieskeurige koper:
Die nuwe Pajero Sport-reeks bestaan uit twee hoëtoerusting-weergawes, 4×4 en 4×2, en word deur Mitsubishi se jongste en lewendige MIVEC turbodiesel-enjin aangedryf wat aan ’n splinternuwe outomatiese 8-gang-transmissie wat die beste in sy klas is, gekoppel is (met in begrip van ’n oordraratkas met laestrek vir die vierwielaangedrewe weergawe).
Pajero Sport 2.4 D4 MIVEC 2WD 8-gang-outomaties R569 995
Pajero Sport 2.4 D4 MIVEC 4WD 8-gang-outomaties R599 995
“As jy op soek is na waarde vir geld, sal dit moeilik wees om verder as die goed toegeruste en bekostigbare Pajero Sport 4WD-weergawe te kyk,” sê Campbell.
“Ons is vol vertroue dat die splinternuwe Pajero Sport fyn by ons bestaande produkreeks en klantebasis sal inpas terwyl dit ook nuwe leefstylklante met sy gesofistikeerde motoragtige rydinamika, luukse gemak en elegante styl sowel as sy bewonderenswaardige veldry-reputasie sal lok,” sê Campbell.
Waarborg en diens:
Die Mitsubishi Pajero het ’n vervaardigerswaarborg van drie jaar of 100 000km en ’n diensplan wat vir vyf jaar of 90 000km geld, met versieningstussenposes elke 10 000km.
Legendariese erfenis:
Die Mitsubishi Pajero, wat bykans 36 jaar gelede bekendgestel is, is ’n ware legende en roem hom daarop dat dit die suksesvolste voertuig in die geskiedenis van die Dakar-veldtydren is, met nie minder nie as 12 algehele oorwinnings op sy kerfstok, wat sewe agtereenvolgende oorwinnings insluit.
Meer as 500 000 Pajero Sport-weergawes is al wêreldwyd verkoop sedert Mitsubishi hierdie groot sportnuts-stalmaat van die beroemde Pajero in 2008 bekend gestel het.
Die splinternuwe Pajero Sport het ook al verskeie toekennings losgeslaan, soos Thailand se Motor van die Jaar vir 2016 en die beste vierwielaangedrewe sportnuts met ’n dieselenjin kleiner as 2,5 liter; Indonesië se OTOMOTIF-Motor van die Jaar vir 2016; Nieu-Seeland se top-leefstylsportnuts vir 2016 en die Oekraïne-Motor van die Jaar vir 2017 in die afdeling vir middelgrootte-sportnutse.
Einde